Sunday 17 June 2012

'Bende' Kry Biografie Oor Sy Beginjare.

Die veelbesproke, altyd gewilde Fokofpolisiekar het nou 'n biografie agter sy naam. Ek het net na die bekendstelling van die biografie met die band gesels.



Toe Fokofpolisiekar in 2003 begin het, was hy niks meer as 'n klein, Afrikaanse punk-rock-band wat net musiek wou speel vir 'n lewe nie.

Niemand het gedink dat dit tot hierdie groot revolusie in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf so lei nie, maar ná agt jaar saam het hierdie groep reeds 'n string albums, 'n dokumentêr en nou ook 'n biografie agter sy naam.

Biografie van 'n Bende, wat deur Annie Klopper geskryf is, lees soos 'n storie. Al weet jy niks van die band af of al is jy nie 'n fan nie, kan jy dit lees soos 'n verhaal. Sonder om die boodskap af te dwing, vertel dit baie van hoe die jeug van ons tyd is.

"Die boek is baie meer lighartig en dit vertel meer oor hoe ons die band ervaar het in vergelyking met die dokumentêr wat uit 'n Engelse oogpunt geskryf is," vertel
 Hunter Kennedy van die groep.
"Die biografie fokus ook meer op die positiewe goed wat ons ervaar het as Fokofpolisiekar en ek dink dat die biografie beslis die hoogtepunt van ons loopbaan as 'n Afrikaanse rock-band is."

Hoewel die band nie gedink het dit is nou die regte tyd vir 'n biografie nie, vertel Wynand Myburgh dat die lede besluit het dat dit beter sou wees om saam met Annie Klopper aan die biografie te werk sodat hulle 'n sê kon hê oor wat geskryf word.
"Dit was nie ons idee nie, maar ons het die geleentheid gebruik om die ware storie oor Fokofpolisiekar aan die fans te bring."

Francois van Coke, die groep se sanger., sê: "In die biografie skryf Annie baie oor die feit dat Fokofpolisiekar ná die hele beursie-situasie in ander bands in uitgebreek het. Teen daardie tyd van die band was ons almal moeg getoer en oorwerk, en dit het alles net half spontaan gebeur. Fokofpolisiekar was van die begin af 'n platform vir ons om ander goed te doen, en ek voel dit is exactly wat dit gedoen het vir al ons ander bands en besighede."

Volgens Kennedy was die breuk wat hulle as 'n band ná die album
 Monoloog in Stereo gevat het, nodig vir hulle om weer grond te vat met wat rondom hulle aan die gang was. Daar was geen sekerheid oor of hulle weer bymekaar sou uitkom nie, maar tot almal se verbasing het hulle ons weer met hul talent as musikante verras.

Wat is volgende vir die manne van Fokofpolisiekar? "Ons wil almal aanhou doen wat ons nou doen. Ons is gelukkig met waar ons staan met die verskillende bands waarin ons nou is en ek twyfel of daar drastiese veranderinge gaan gebeur, maar ons gaan almal probeer kreatief bly," sê Van Coke.

Myburgh, die groep se bassist, sê: "Ons wil almal graag weer 'n vollengte-album skryf en as Fokofpolisiekar vervaardig.
"Ons wil dit hopelik in Augustus vanjaar doen!"
Suid Afrika het duidelik nog nie die laaste van dié bende gesien nie.

No comments:

Post a Comment