Tuesday 25 September 2012

DIE BEGIN is hier!


DIE BEGIN – “KNOPPIESDORINGSTRAAT EP” VRYSTELLING 



" Die beste nuwe musiek is altyd dit wat jy nooit gedink het jy nodig het nie –
tot jy dit hoor. Dit is hierdie EP, en dit is Die Begin. " - Toast Coetzer
Dit het alles begin met ‘n man. En sy vrou. En sy jonger broer. En sy twee nefies (wat ook boeties is). Toe Bittereinder se bebaarde kletsrymer hierdie familie saam met ‘n dosyn akoestiese instrumente in ‘n voorstedelike motorhuis in ‘n myndorpie teëkom, was ‘n behoorlike Afrikaanse folk band ‘n amper onvermydelike resultaat. Die 6 lede van Die Begin se lewenspaaie het afsonderlik begin in die hartjie van die Karoo, die noordelike grens van die Noordwes en die berugte stad van Pretoria, en toe ietwat onvoorspelbaar gekruis in Brits, ‘n groeiende plaas/myndorpie op die grens van Gauteng en die Noordwes provinse, in 2011. 
Met baie min alternatiewe vermaaklikheidsgeleenthede en ‘n gemeenskaplike liefde vir musiek was dit nie lank voor die ses vriende nuwe lirieke, melodië en ritmes saam begin uitkerf het in die regte plek vir sulke dinge nie: ‘n graatsj. Al die belangrike elemente van outentieke folk musiek was teenwoordig: ‘n gevoel van familie (in hierdie geval was die gevoel natuurlik heel eg), veelvoudige vokale harmonieë, eenvoudige soliede ritmes, deurdenkte lirieke en eindelose skaterlag rondom ‘n vuurtjie. Die musiek groei toe tot ‘n eerlike, organiese folk-klank, begelei deur instrumente wat bespeel word sonder enige truuks of kunsmatige effekte. 

" 'KNOPPIESDORINGSTRAAT EP' is ‘n verrassende, hoogs aangename debuut. 

Ek reken dit ‘n hoogtepunt vir plaaslike musiek in 2012. " - Pieter Redelinghuys, LitNet

Halfpad deur 2012 het Die Begin ‘n 5-snit-EP (getiteld “KNOPPIESDORINGSTRAAT EP”) opgeneem by Benjamin Studio in Pretoria saam met Jacob Israel (dieselfde man wat Fulka se eerste album gedoen het). Die 5 liedjies op die EP is ‘n goeie verteenwoordiging van die band se eerste 18 maande van liedjieskryf, insluitend ‘n roerende cover van Fokofpolisiekar se “Brand Suid-Afrika” (lirieke gebruik met Hunter Kennedy se vriendelike toestemming). Die EP se wonderlike kunswerk is gedoen deur illustreerder Gerhard van Wyk. Die video vir die eerste enkelsnit “Vulkaan” word gemaak deur die Pretoriaanse filmmaker Adam Heyns, en sal in November 2012 vrygestel word. Gedurende Die Begin se eerste paar optredes het hulle die verhoog gedeel met kunstenaars soos Valiant Swart, Jan Blohm, Paul Riekert, Toast Coetzer en Andries Bezuidenhout, en hulle optrede gedurende die OOPMOND vertoning by Oppikoppi 2012 was op Kyknet se “Fiesta” gewys. 
In die lig van die algemene positiewe terugvoer wat hulle tans ervaar, is Die Begin baie opgewonde om te sien wat in die volgende paar maande en jaar gaan gebeur, en het besluit om hulle eerste opnames gratis vry te stel.


Gaan laai af en geniet Die Begin se KNOPPIESDORINGSTRAAT EP gerus hier:


DIE BEGIN is:
Liani Reynolds: klavier, melodika, stem
Malherbe van Heerden: cajon (“boksdrom”), stem
Jaco van der Merwe: kitaar, stem
Kalla Reynolds: banjo, stem
Christiaan Reynolds: kitaar, trekklavier,stem
Kallie van Heerden: perkussie, stem